Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARLNUUS SONDAG 30 MAART 2008

U luister na ZS6SRL die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web web www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die koppelings soos aangedui. Vir oudio via Echolink koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie, en vorige bulletins, kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser vanoggend is Rooikappie, ZS6LME, vanuit Pretoria met herleidings op 28,325, 14,235, 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB asook, 51,400, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoriagebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik).

STIL SLEUTEL

Dit is met diep leedwese dat die afsterwe van Victor Makkink, ZS6VFM, gedurende verlede week aangekondig moet word. Victor was 79 jaar oud en het ’n beroerte gehad terwyl hy trekker bestuur het.

Ons betuig ons innige meegevoel met sy vrou Shelia, seuns Andrew in Australië en David in die Verenigde Koningryk, ander familie en vriende.

POUSE

In vandag se SARLNuus:

SARL ALGEMENE JAARVERGADERING

ZRre MAG EERSDAAGS TOEGANG KRY TOT MEER SPEKTRUM OP 20 METER

KLK - SARL SE BESWAAR TEEN DIE ONTWERPREGULASIES NOU AANLYN

80 METER QSO-GESELLIGHEID

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

SARL ALGEMENE JAARVERGADERING

SARL-lede word herinner dat die algemene jaarvergadering op Saterdag 12 April in die Little Willie Auditorium by die Pantserskool in Bloemfontein plaasvind. Die volledige dokumentasie kan by die afdeling vir lede alleen vanaf www.sarl.org.za afgelaai word. Geen registrasie is nodig om die AJV by te woon nie. Indien jy middagete na die vergadering wil nuttig, is dit nodig om te registreer. Die koste van die maaltyd is R25.00.

As jy nie die AJV kan bywoon nie, stuur asseblief ’n volmagstem so spoedig moontlik. Die volmag- en registrasievorms vir die middagete en ander funksies is beskikbaar op die webwerf.

Die AJV is maar ’n klein deel van die SARL Nasionale Konvensie wat op 11 April begin en afsluit met ’n spesiale “DX”-ontbyt op Sondag 13 April. Registreer vir die hele naweek van amateurradio. Bring ’n vriend of jou wederhelf, die verskillende aktiwiteite kan hulle beïndruk en om nie te vergeet van die gasvryheid waarvoor Bloemfontein bekend is nie. Stuur asseblief jou besprekingsvorm voor 6 April sodat die reëlingskomitee alles in plek kan kry vir ’n besonderse naweek. Besoek www.sarl.org.za vir die volledige program.

ZRre MAG EERSDAAGS TOEGANG KRY TOT MEER SPEKTRUM OP 20 METER

Na die SARL-OKOSA vergadering verlede maand, het die Ingenieursdepartement van OKOSA bevestig dat die fout in die regulasies wat ZRre beperk tot ’n baie klein gedeelte op 20 meter, reggestel sal word. OKOSA het die proses begin om die wysiging in die Staatskoerant te publiseer. ZR-lisensiehouers word daarop gewys dat die huidige regulasie van toepassing is totdat die wysiging gepubliseer is. Die huidige gedeelte is 14 225 – 14 250 kHz en ZR-lisensiehouers moet hiervolgens werk of moontlike vervolging en/of kansellasie van hulle lisensies in die gesig staar.

KLK - SARL SE BESWAAR TEEN DIE ONTWERPREGULASIES NOU AANLYN

Die besware van die SARL en Hamnet teen die ontwerp Kraglynkommunikasieregulasies kan nou aanlyn gelees word. Vanaf die SARL-tuisblad, klik op “information” en kies “PLC/BPL.” Die ontwerpregulasies kan ook vanaf die “PLT”-bladsy afgelaai word.

NOG ’n PAAR DAE OOR VIR DIE SAAROT KONSTRUKSIE KOMPETISIE.

Die sluiting datum vir die SA Amateurradioontwikkelstrust konstruksie kompetisie is 31 March, nog net ’n paar dae oor om in te skryf. Volle besonderhede is beskikbaar by www.amateurradio.org.za. Die algehele wenner gaan die eienaar word van ’n D-Star send/ontvanger geborg deur Multisource Telecommunications.

TINUS LANGE 7 066 TEGNIESE UITMUNTENDHEIDSTOEKENNINGS

Die sluitingsdatum vir die Tinus Lange 7 066 Tegniese Uitmuntendheidstoekennings is 31 Maart. Die junior en senior toekennings word gemaak vir ’n tegniese projek soos die ontwerp en/of konstruksie van ’n voorversterker, SGV-brug, outomatiese ID-er, praktiese antenna-idees, maste, draagbare toerusting, kragbronne, ens., of enige programmatuur vir gebruik in amateurradio. Volledige besonderhede was in SARLNuus van 9 Maart gepubliseer.

SARL 80 METER QSO-GESELLIGHEID

Die eerste skof van die SARL 80 Meter QSO-geselligheid word op Donderdag 3 April 2008 vanaf 19:00 tot 22:00 SAT gehou. Dit is ’n foon alleen kompetisie met aktiwiteit tussen 3,603 en 3,700 MHz. Roepseine, ’n RS-verslag en ’n reeksnommer word uitgeruil. Die reëls is beskikbaar in die 2008 SARL-kompetiseboek.

HAMNET GAUTENG-SUID

’n Strategiese beplanningsvergadering is geskeduleer vir die HAMNET Gauteng-suidstreek. Alle belangstellendes word genooi om dit by te woon. Die vergadering word op Donderdag 3 April 2008 om 18:30 vir 19:00 by die Oostlike Streeksrampbestuurkantore in Springs - Ekurhuleni, in Plantationweg gehou. Registrasie begin om 18:30 en die vergadering begin om 19:00.

Die vergadering sal kyk na strategiese beplanning vir HAMNET Gauteng-suid, rampbestuurkommunikasievrywilligers en rampkommunikasieoefening 2008. Roep op 145,675 of 438,700 MHz vir rigtingaanwysings na die vergaderplek in Springs.

BACARSPAN OM SATERDAG 5 April TE VERGADER

Die BACAR-span sal op Saterdag 5 April om 11:00 SAT by die SARL Nasionale Amateurradiosentrum vergader. Die hoofdoel van die vergadering is om die verskillende loonvragte te toets vir verenigbaarheid. Die loonvragte sal saam gekoppel word en op die lug wees. Luister op Saterdag vanaf 11:00 op 7 082 kHz vir besonderhede. Jy mag aktiwiteit op 144,800 en 144,825 asook op die BACAR-HF-baken op 7 022 kHz GG hoor.

’n Interessante artikel getiteld "Local radio amateurs plan to go into near space" was in die Februarie uitgawe van EngineerIT gepubliseer. Jy sal die skakel by www.amsatsa.org.za vind asook besonderhede van die loonvragte. Dit word beplan om BACAR op 24 Mei te lanseer.

TWEE METER SATELLIET-QSO’s

'n Versoek word gerig aan gebruikers van die 2 meterband om die satellietopskakelfrekwensie van 145,920 MHz te vermy vir plaaslike QSO’s. Sulke aktiwiteit veroorsaak QRM vir diegene wat QSO’s via 'n satelliet wil voer, bv. AO16. Daar is 'n groot toename aan amateurs wat QSO’s via AO16, AO51 en VO52 voer.

KLUBNUUS

Die Antieke Draadloosvereniging se jaarlikse ope dag by die Randse Lughawe by die TAC (Transvaal Aviation Centre) begin om 09:00 op Saterdag 5 April 2008. Kom en geniet die dag by die TAC met ’n snuffelmark, antieke draadloosuitstalling, restaurant, kontantkroeg en aangesig tot aangesig QSO’s met talle lede van die AWA. Bring die kinders saam om te sien hoe styg die vliegtuie op, reg langs die TAC. Vir snuffelmarktafels kontak Andy, ZS6ADY, by 082 448 4368.

Magalies Radioamateurklub hou om 08:00 op 19 April 2008 hulle herfs snuffelmark by hulle klubhuis op die hoek van Mills- and Breyerlane, Waverley. Kos en koeldranke sal beskikbaar wees. Die koste vir bespreking beloop R20 per tafel of kattebakverkoping. Kom sluit by hulle aan vir 'n dag van pret en plesier. Kontak Nico, ZR6AFJ, by 082 772 2556. Sien jou daar. Inroepe sal op 145,750 MHz geneem word.

VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak die komende week laag tot matig gaan wees. Die geomagnetiese veld sal oor die algemeen stil tot onrustig wees. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling sal gedurende die komende week minder as 25 wees. Die verwagte DX-toestande is goed vir die Noordelike rigtings maar vrotterig vir die hoofsaaklik Noord-Westelike paaie.

15 m en 20 m is die beste keuse vir DX met moontlike 15 en 20 m-openinge vanaf 14:00 SAT na Indië. Daar is 'n moontlikheid van kort, flou 20 m-openinge na Australië vanaf ongeveer 08:00. Vanaf ongeveer 15:00 is daar moontlike 10, 15 en 20 m-openinge na Europa. Kontakte met die VSA gaan baie uitdagend wees. 10 MHz lyk na sononder bruikbaar vir die morsekode- en digitale entoesiaste.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 30 m behoort gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande te lewer. Saans is 80 m die beste keuse. Dit is nou as die donderstorms en staties vir jou 'n kans gaan gee. Onthou dat hierdie net 'n voorspelling is en dat HF jou steeds kan verras. Skakel jou stel aan, luister en roep ook CQ om seker te maak dat jy deel van die opwinding is.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

27 Maart tot 3 April – 7P8FC DXpedisie;
31 Maart - Sluitingsdatum vir stadium 1 van 2008 konstruksiekompetisie; en Sluitingsdatum vir nominasies vir Tinus Lange-toekennings;
3 April - SARL 80 meter QSO-geselligheid;
6 April - Sluitingsdatum vir bywooningsbesprekings vir die SARL se AJV;
11 tot 13 April - SARL AJV in Bloemfontein;
12 April - Kemptonpark AmateurRadio Tegniese Vereniging begin met 'n Klas B RAE-kursus;
15 April - Overberg ARK AJV;
19 April - SA AMSAT Ruimtekommunikasiekonferensie; Magalies ARK Snuffelmark;
21 April – Sluitingsdatum vir Nokia Siemens Netwerk Toekennings.

SARL nuus nooi klubs en individue uit om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoriagebied met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 590 kHz, te luister. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op ARMI en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is.

'n Voorspoedige week word aan almal toegewens, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003